Vanaf 2012 tot Mei 2014 het WIPS die volgende bereik:

  • WIPS is uitgeroep na verskeie plaasaanvalle waar 13 verdagtes gearresteer is.
  • Verwyder 4 512 draad- en kabelstrikke wat gestel is vir wild en vee, per jaar.
  • Meer as 9 500 voëlstrikke is verwyder, per jaar.
  • 219 gesteelde beeste en meer as 48 skape en bokke is teruggevind, per jaar.
  • 'n Gemiddeld van 6 diewe word aangekeer, per maand.
  • Meer as 63 onwettige immigrante is gearresteer en gedeporteer deur die owerhede, per maand.
  • Groot hoeveelhede gesteelde items, soos vuurwapens, voertuie, diesel, gewasse woos uitvoer druiwe en sitrus, so wel as sakke koring, mielies en ander voedsel is teruggevind.

Hiermee volg nuusartikels wat in Die Daller weekblad verskyn het:

Vermeende Wildstroper Gearresteer - Daller

'n Wildstroper se draadjie is kortgeknip toe hy deur lede van WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) gearresteer is. Een van WIPS se lede, mnr. Katoti Steven, het Woensdag, 21 Augustus, vreemde spore opgemerk naby Sebaka, buite Middelburg en besluit om dit op te volg.

Mnr. Steven het opgemerk dat die drade by Sebaka geknip is en hy het op 'n bosvark afgekom wat met assegaaie doodgemaak is. Hy het besluit om daar en dan bystand in te roep, waaarna mnre. Piet Groenewald en Jaco van Staden vir Sipho Masimula (22) by Haakdoring gearresteer het.

Masimula is deur WIPS aan Middelburg Polisie oorhandig en van onwettige jag aangekla. 

Masimula het op Donderdag, 21 Augustus, in die Middelburg Landdroshof verskyn en is vrygelaat op R500 borg. Hy moet weer op Donderdag, 12 September, in die hof verskyn.

Nuwe Arrestasie in Mills Saak

Nog 'n man is Donderdag gearresteer in verband met die Mills plaasaanval. Mnre George Mills (senior en junior) is in Augustus verlede jaar in hul huis op die plaas Kameeldoring deur gewapende mans aangeval.

Die verdagte is deur lede van WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) gevang en na Groblersdal Polisiestasie geneem. Sy volle name was nie teen druktyd beskikbaar nie. Identiteitsdokumente wat aan hom gevind is identifiseer hom as 'n Mosambiekse burger genaamd CP Maobane.

Mnr. Piet Groenewald van WIPS het gesê dat hulle afgekom het op sy gekamoefleerde huis, wat hy teen 'n koppie op die plaas gebou het.

Die skuiling het afgekyk op die werf van mnr. Mills wat dit vir hom moontlik gemaak het om al hulle bewegings dop te hou.

Items wat by hom gevind is, soos 'n Absa brandstofkaart wat aan 'n mev. Swanepoel behoort, skep die vermoede dat hy by verskeie misdrywe betrokke kan wees.
 
Mnr. Groenewald sê dat die man vermoedelik militêre opleiding gehad het. Dit het deurgeskemer in die metodes wat hy gebruik om water by sy huis op te vang sodat hy nie onnodig moes rondloop nie. Die skuiling is kundig gebou en weggesteek.

Mev. Swanepoel is intussen in die hande gekry en daar is vasgestel dat haar kar een van vyf was wat 'n jaar gelede in Boskop gesteel is. Haar kar is steeds weg.

Vakansiegangers Beroof

Selfs vakansiegangers loop deur onder die toenemende vlaag van misdaad in die Loskop Vallei.

Die WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) span het Saterdag nog 'n vermeende misdadiger vasgetrek wat daarvan verdink word dat hy verantwoordelik is vir 'n hele paar voorvalle van diefstal. 

WIPS se hulp is ingeroep nadat vakansiegangers se besittings soos yskaste en klere by Seekoeigat, ongeveer 18km buite Groblersdal, gesteel is.

Dit is die vierde keer in twee maande wat vakansiegangers by die gewilde kampterrein deurloop. En daar is lank gesukkel om die skuldiges vas te trek. Mnr. Jaco van Staden van WIPS het vertel dat hulle een van die verdagtes, June Rankwe (24), ongeveer 14:45 Saterdag gearresteer het en aan die polisie in Groblersdal oorhandig het.

Hy is aangekla van diefstal en het Dinsdag in die hof in Groblersdal verskyn.

Vermeende Stropers Vas

Die geveg teen die uitwissing van renosters het hierdie week 'n hupstoot gekry toe die polisie vyf vermeende renosterstropers gearresteer het.

Die arrestasie volg kort nadat vyf renosters oor die laaste paar weke op twee wildsplase in die omgewing afgemaai is.

Al vyf mans is Vrydag ongeveer 20:00 in Marble Hall gearresteer nadat die polisie inligting oor verdagte voertuie ontvang het. Hulle het die voertuie afgetrek tydens 'n patrollie en hul deursoek. Daar is 'n jaggeweer, knaldemper, ammunisie en 'n byl by die mans gevind. Dit is alles as bewyse gekonfiskeer.

Die vyf verdagtes het Maandag in die Groblersdal landroshof verskyn op aanklagte van die besit van onwettige wapens en ammunisie.

Aanklagte moes teen drie van die verdagtes teruggetrek word omdat daar nie genoegsame bewyse teen hulle was nie.

Die saak teen Arthur Mashaba (43) en Albertus Muloti (40) duur voort en is uitgestel tot middel November vir verdere ondersoeke. Beide mans bly in aanhouding.

Wagte Oorval

Twee van Wildlife Investigations and Protection Services (WIPS) se wagte is Woensdagaand deur verdagtes oorval en aangerand.

Een van die wagte, wie se identiteit weerhou word om hul veiligheid te verseker, is oor die kop geslaan met 'n stomp voorwerp. Daar is ook 'n skoot langs hom afgetrek.

Dit het gebeur terwyl hulle die Schoonbee Landgoed eiendom op die Schoeman pad tussen Groblersdal en Marble Hall opgepas het.

Die wagte het daarin geslaag om te ontsnap en hulp te ontbied.

Tydens die ondersoek is daar vasgestel dat hul aanvallers vermoedelik deur iemand by die teerpad opgelaai is. Hulle wou heel moontlik by die eiendom inbreek.

Die beseerde wag is per ambulans hospitaal toe geneem waar hy behandel en toe ontslaan is.

Dagga word minder

Daar is beslag gelê op 91 daggaplantjies op 'n plaas net buite Groblersdal.

Mnre. Nico van der Walt en Jaco van Staden van WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) het Woensdagoggend beslag gelê op die daggaplantjies op die plaas sowat 15km buite Groblersdal (Stoffbergpad).

Die plantjies het hulle bakkie vol gelê en volgens mnre. Van der Walt het die verdagtes weggekom, maar die saak word tans ondersoek.

Gholfstel van bakkie gesteel

'n Man wie se gholfstel van sy bakkie af gesteel is voor KFC in Groblersdal, het dit teruggekry toe 'n informant van Tafelkop na vore gekom het met inligting.

Mnr. Tjoepie van Staden sê dat hulle inligting ontvang het dat daar iemand in Tafelkop is wat probeer om 'n stel gholfstokke te verkoop.

Een van Wildlife Investigation and Protection Services se werknemers het as lokvink opgetree en gemaak asof hy belangstel in die stokke. Die verdagte is by 'n sjebien in Tafelkop gearresteer deur Mnr. van Staden.

Hy het hulle daarna na sy huis, skaars 'n kilometer van die sjebien af, gelei waar hulle die gholfstel gekry het.

Die gholfstokke is aan die eienaar terug besorg.

"Al is iemand dalk nie 'n kliënt van ons nie. Ons volg maar al die inligting wat ons kry op en probeer help waar ons kan,"het mnr. Van Staden gesê.

Onwettiges vasgetrek - Vragmotors oorlaai met Zimbabwiërs

'n Vragmotor wat voertuie van Durban na Zimbabwe vervoer is Woensdag deur WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) afgetrek en onwettige immigrante is vasgetrek.

Mnre. Nico van der Walt en Jaco van Staden, het die vragmotor op die Loskopdampad afgetrek waarna die mense in die voertuie gevind is met al hul bagasie. In die bagasie was onder andere klere, kos, bande en selfs binne-bande. Die drywer van die vragmotor het elke "passasier" R500 gevra om hulle na Zimbabwe te veroer. Twee vroue is as onwettige immigrante geïdentifiseer. Al die ander persone was wettig in Suid Afrika, maar dit maak hulle nie onskuldig aan die feit dat hulle die vrag oorlaai het nie.

Die bande waarmee die voertuie vervoer word, is net gemaak om die gewig van leë voertuie te kan hanteer en kan maklik ingee met die ekstra gewig soos wat dit oorlaai word.

Die vragmotor behoort aan 'n maatskappy genaamd Autonet. Die vervoer bestuurder van Autonet in Kwazulu-Natal(wat nie sy naam wou gee nie) het gesê dat hulle al verkeie sulke voorvalle gehad het. Hul dank die drywers dadelik af indien hulle betrap word.

Volgens die drywers van die vragmotor(wat anoniem wou bly) doen hulle dit, omdat hulle 'n baie swak salaris ontvang en sukkel om te oorleef. Die passasiers verkies om eerder R500 te betaal as om met busse te ry wat hulle tot R1 200 vra met hulle bagasie.

Die bestuurder van die vragmotor is in hierdie geval laat gaan met die straf dat hy elkeen se R500 moes terug betaal en die passasiers is ook laat gaan met die straf dat hulle wettig terug sal keer na Zimbabwe. Nadat die passasiers afgelaai is, was hulle baie verward, omdat hulle nie geweet het waar hulle was nie. 

Raasblaar Reuse Geskiet - Nog twee renosters sneuwel in horingoorlog

Twee renosters is vroeg Woensdagoggend dood gevind by Raasblaar Lodge, tussen Groblersdal en Marble Hall.

WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) se Piet Groenewald sê dat die renosters ongeveer 02:00 Woensdagoggend gestroop is.

Die renosters het etlike meters van mekaar af gelê, en die stropers kon met net een horing wegkom.

Mnr. Groenewald het gesê met sy aankoms op die toneel het die bloed nog uit een van die renosters se wonde gespuit. 

Die renosters het verskeie beserings gehad, een renoster se keel is met 'n panga oopgekap om hom finaal te dood. Die bul is rondom sy oë ook met die panga bygekom en sy rug is erg deur die koeëls beseer.

Die renoster wat se horing gestroop is, se oë is so erg met die panga beskadig dat hy waarskynlik nie meer kon sien nie. WIPS spoorsnyers het spore tot by die lodge se dam gevolg.

Gedurende die dag het die polisie, WIPS en die gemeenskap, die gebied gefynkam vir die stropers, wat daarin kon slaag om te vlug. Gedurende die laaste vier weke is drie renosters by Raasblaar gestroop en nog twee by Quantum Leap Wildsplaas en Gastehuis gearresteer.

Verdagtes met honde wat vermoedelik agter koedoes aan was, is Woensdag by Quantum Leap Wildsplaas en Gastehuis gearresteer.

Twee renosters, 'n koei en bul, is ook gedurende die naweek by die Sebaka privaatreservaat in die Middelburg omgewing gestroop.

'n Verdagte voertuig is kort na die stroping deur WIPS agterna gesit maar die drywer is gearresteer vir die besit van onwettige sigarette.